Geestelik Blind 

Hoekom kan sommige mense dit net nie insien nie? Hoekom kan hulle nie iets sien wat so duidelik is soos die neus op hulle gesigte nie? Want hulle is geestelik blind. Daar is mense wat al lank Christene is, maar hulle is blind en kan nie daardie dinge sien wat so voor die hand liggend is vir die ander gelowiges rondom hulle nie. Ek is seker dat jy ook al met sulke mense te doene gehad het en dat jy gewonder het hoekom hulle so blind is. Jy het seker ook al gewonder wat ‘n mens kan doen om te verhoed dat hierdie siekte jou aantas en veroorsaak dat jy in verskriklike duisternis rondtas.

Die hartseerste van geestelike blindheid is dat die persoon wat dit het, nie in staat is om te herken dat hy nie kan sien nie! Mense wat fisies blind is, is maar net te bewus daarvan dat hulle nie kan sien nie en dat alles rondom hulle nag-swart is. Maar die geestelik blinde dink egter dat hy kan sien, en dikwels dat hy beter as enige ander persoon kan sien. Is dit nie wat Jesus bedoel het toe hy gepraat het van die man met die balk in sy oog wat die splinter uit die ander se oog wou verwyder nie (Matteus 7:5)? Jesus het ook vir die gemeente van Laodicea gesê: “julle weet nie dat julle … blind [is nie]” (Openbaring 3:17).

Dit is ongelukkig so dat geestelike leiers dikwels tussen diegene is wat geestelik blind is. Jesus het die Fariseërs dikwels daarvan beskuldig dat hulle “blinde leiers van blindes” is (Matteus 15:14; 23:24; 23:26 ens). Ten spyte daarvan dat hulle godsdienstig is, maak dit ‘n christen en ook christen leiers, nie immuun teen hierdie siekte nie. Dit is selfs moontlik dat godsdienstige mense meer vatbaar is vir hierdie toestand as ander mense. Dus hoe meer geestelik ons dink ons is, hoe meer blootgestel is ons om dit op te doen. In ‘n onlangse gebedsbyeenkoms het iemand ‘n lang en vroom gebed gebid vir iemand anders om die lig te sien. Dit sou ‘n baie goeie gebed gewees het as dit nie was vir die feit dat die gebed eintlik vir hom bedoel was aangesien dit sy oë is wat geopen moet word sodat hy kan bely en bekeer. (Moenie bekommerd wees nie. Hy sal nie weet dat dit na hom verwys nie aangesien geestelike blindheid so vernietigend is dat mense geen idee het wat gebeur nie, ten spyte van die feit dat ons dit onder hulle neuse vryf!) Jesus het vir die Fariseërs gesê dat die blote feit dat hulle sê dat hulle kan sien, bewys is van die feit dat hulle blind is (Johannes 9:40-41)!

Daar is ‘n aantal oorsake vir die blindheid. Die eerste is hoogmoed. Onthou dat “in sy eie oë is alles wat 'n mens doen, reg” (Spreuke 16:2). Nadat Saul ongehoorsaam was aan die opdrag van die Here, het hy vir homself ‘n gedenkteken opgerig en met die geblêr van die vervloekte skape in die agtergrond, vir Samuel met die volgende woorde begroet: “Mag die Here u seën! Ek het die opdrag van die Here uitgevoer” (1 Samuel 15:13). Sy arrogansie het hom so blind gemaak dat hy in werklikheid geglo het dat dit wat verkeerd was, reg was. Selfs nadat Samuel aan Saul in geen onduidelike taal verduidelik het dat hy verkeerd was, het hy dit nog nie ingesien nie. Die verhaal van die eerste koning van Israel is die tragiese sage van ‘n man wat so verblind was deur sy hoogmoed, dat hy geen woord verstaan het wat die profeet aan hom gesê het nie. Selfs nadat Dawid in sy plek as koning gesalf is en duidelik deur God geseën is, het hy steeds geglo dat hy aan die salwing kan vashou deur Dawid dood te maak. Hoe ontsettend hartseer is dit nie.

Die teenmiddel vir blindheid as gevolg van hoogmoed, is vanselfsprekend nederigheid. Neem elke betigtiging persoonlik op en maak elke boodskap wat jy hoor op jouself van toepassing. Lees elke woord in die Bybel as ‘n persoonlike boodskap wat aan jou gerig is, veral daardie gedeeltes wat teregwysing, waarskuwing en betigtiging bevat. Vra vir ander mense om eerlik met jou te wees en vir jou te sê hoe hulle jou sien. Wees dan nederig genoeg om na hulle raad te luister. Bowenal moet jy die Here daagliks vra om jou oë te open sodat jy regtig mag sien. As jy ander sien wat in die donker rondval -  moenie op hulle afkyk nie, beskou dit eerder as ‘n waarskuwing. Vlug onmiddellik na die Here en vra Hom om jou te help om te sien en om jou daarvan te bewaar dat jy blindekolle ontwikkel. Ek vind dat dit makliker is om in sommige kerke te preek as in ander. Die een rede wat dit makliker maak is dat dit nie saak maak hoe op die man af die boodskap is nie, die mense sal altyd baie gelukkig weggaan omdat hulle dink dat die boodskap bedoel is vir iemand anders wat hulle ken. Natuurlik is dit maklik want niemand is omgekrap deur jou woorde nie. Aan die ander kant is dit egter niks anders as ‘n mors van tyd nie want niemand ontvang die boodskap nie.

Die tweede oorsaak van geestelike blindheid is wanneer ons weier om oop te wees vir die waarheid. Die menslike brein het die wonderlike vermoë om net dit uit te kies wat dit wil sien, hoor en onthou. Die televisie en sy oorvloed beelde van bloed, geweld, lyding en trauma maak mense ongevoelig en hulle sien sulke goed nie eens meer raak nie. Ons aanskou die verwoesting van aardbewings, tornadoes, vuur en hongersnood, maar ons is blind vir die werklike en persoonlike lyding van daardie mense wat ons op ons skerms sien. Op dieselfde manier ontwikkel ons die bejammerenswaardige vermoë om die splinters in ander se oë te sien sonder dat ons die boomstompe in ons eie oë opmerk. Ons sien tog so duidelik hoe ongedissiplineerd ander mense se kinders is, maar ons is blind vir ons eie kinders se ongehoorsaamheid. Dit gaan selfs vêrder. Wanneer ons ook al die Bybel lees, sien ons altyd hoe die positiewe dinge (beloftes, seëninge ens.) op ons toepassing vind, terwyl die negatiewe dinge (teregwysings, berispings, vermanings) op al die ander mense van toepassing is.

Hierdie soort van selektiewe visie is baie gevaarlik omdat dit baie vinnig permanent word en ons nie meer die realiteite behoorlik sien nie, selfs al wou ons. Dink byvoorbeeld aan ‘n teoloog of geleerde wat nie die eenvoudigste beginsels in die Bybel kan verstaan nie. Hulle oë en gedagtes is oor ‘n leeftyd geleer om net dit te sien wat hulle wil sien. Hulle sien dinge, nie hoe dit werklik is nie, maar hoe hulle dit wil hê. Hulle het my vertel dat wanneer ‘n persoon ‘n bril sou dra wat alles onderstebo draai, dit die brein net ‘n paar dae sal neem om die beeld reg te draai sodat alles reg weer reg lyk. Die brein is baie kragtig en dit kan maak dat ons dit wat verkeerd is as reg beskou en swart as wit.

Ons kry baie optiese illusies, beide fisies en geestelik. In Kalifornië is daar ‘n aantal plekke of huise waar dit lyk asof water teen die helling opwaarts loop. Vir die oog lyk dit asof dit regtig so is, totdat jy ‘n waterpas daarteen hou of uit die huis uitloop en vanuit ‘n duideliker perspektief daarna kyk. Die teenmiddel vir geestelike drogbeelde, is wrede eerlikheid en om dit wat ons sien met die absolute te vergelyk. As jy jouself met die ander mense rondom jou vergelyk, sal jy maklik oortuig kan word dat jy in werklikheid reg is, maar as jy jou lewe teen die maatstok van God se Woord meet, dan word dit baie duidelik dat dinge nie is soos wat dit voorkom nie.

Daarom raai Ek julle aan … koop oogsalf om aan julle oë te smeer, sodat julle kan sien” (Openbaring 3:18).